Januarie / Februarie
2026

Bruis Tydskrif 

Bruis is ’n lekkerlees-tydskrif vir mense bo 45. Dit bied inspirasie, raad en inligting aan mans én vroue in topgehalte-artikels oor bekendes en minder bekendes, aktuele sake, gesondheid, aftrede, geld, leefstyl, resepte en verhoudings … plus ’n tikkie humor en blokraaie. Bruis is beskikbaar in gedrukte sowel as digitale formaat. Lekker lees!

Beskikbaar op

8 Januarie!

Antoinette gesels

Antoinette Pienaar stel haar lewe op Theefontein in die Karoo aan ons bekend. Sy gesels elke week in haar Klein Wit Huisie oor dinge wat haar na aan die hart lê en deel sielsverrykende pitkos soos net Antoinette kan.

Creme Classique

In hierdie uitgawe

KOLLIG

Anneline lief vir die lewe op 70

Ná meer as 50 jaar hét sy dit nog. Ons kan nie genoeg van Anneline Kriel kry nie. Haar lang hare is nog net so glansend blond, oë so mooi blou en glimlag so vriendelik soos toe sy in 1974 as Mej. Wêreld gekroon is. Bowenal bly sy plat op die aarde, net ons geliefde Annie.

DEUR KARIN DE BEER

Van haar glansryke kroning as Mej. Wêreld, deur twee mislukte huwelike en die geboorte van haar twee dogters tot by haar bykans volmaakte eilandlewe op Mauritius saam met haar derde man, Peter Bacon … Anneline Kriel se doen en late bly ons fassineer.

KOLLIG

Skryf is wat Marcel nou wil doen

Hy was tot onlangs in twee bekende sepies te sien: Suidooster en Kelders van Geheime. Maar nou skuif Marcel van Heerden eers voor die rekenaar in om te skryf. Hy glo daaraan om aan te hou beweeg, en dit sluit in om jou kop met werk fiks te hou.

DEUR KARIN BURGER

Marcel van Heerden stap stadig en moeisaam die trappe op by die koffiewinkel op die kusdorpie Scarborough in die Kaapse Skiereiland. “Dit het niks met ouderdom te doen nie,” grinnik die 73-jarige akteur. Skaars vyf dae gelede was hy nog in die hospitaal nadat ’n skuifdeur by sy kothuis hier naby op hom geval en ’n rib gebreek het.

KOLLIG

Supervrou Susan wil blydskap bring

Susan Coetzer is ’n gewilde motiveringspreker, bekroonde aktrise en skryf die een topverkoperboek ná die ander. Al dié dinge én meer vermag sy met eindelose energie. Maar dit was ’n lang, harde pad om daar te kom. In haar jongste boek deel sy haar geheim.

DEUR SUZETTE TRUTER

Op die stel van Binnelanders het die aktrise Susan Coetzer al ’n bynaam gekry… Miss Lawn Mower. Voordat ’n nuwe toneel geskiet word, brul sy eers ’n paar keer soos ’n grassnyer wat aan die gang probeer kom!

Sappo

AKTUEEL

Watwou opgee! Troef terugslae só

Terugslae tref almal en kan groot finansiële implikasies hê indien jy dalk jou werk verloor of jou eens suksesvolle onderneming op die rotse beland. Kan jy jouself daarop voorberei en hoe verwerk en kom jy deur dié soort verlies? ’n Kenner wat self die pad gestap het, gee raad.

DEUR KARIN DE BEER

Aanhouer wen. Probeer is die beste geweer. Waar ’n wil is, is ’n weg. Sulke gesegdes kan bra hol klink as ellende en teenspoed jou tref, maar dís wat jy sal moet doen. Opstaan en aangaan. Niemand kom jou red nie.

INSPIREER

‘God bloei saam met ons’

Daar is stories wat ons vertel omdat ons wil, en daar is stories wat ons vertel omdat ons moet. Die storie oor die verwonding ná die moorde op Gerhard Pietersen se skoonouers móés net vertel word …

DEUR TRUDIE MYBURGH

Op Saterdag 18 Junie 2016 het Gerhard en Amor Pietersen se wêreld inmekaargetuimel … hul lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. Dié middag het spreeus soos trosse swart druiwe in die bome van hul pastorietuin in Houtbaai, Kaapstad, kom sit. Die lowergroen van die blare was onsigbaar. Party voëls het van tak tot tak rondgespring, ander het net gesit en staar. Dit het gelyk soos ’n toneel uit die Hitchcock-film The Birds.

INSPIREER

Engel van Soebatsfontein

Nie eens die dood van al drie haar kinders op een slag in ’n motorongeluk het Retha de Beer se geloof laat wankel nie. Die Here het haar en haar man volkome getroos en gelei tot op Soebatsfontein in Namakwaland waar sy haar soos ’n aardse engel ontferm oor ’n gemeenskap wat swaarkry.

DEUR KARIN DE BEER

Min mense weet van Soebatsfontein, ’n piepklein nedersetting genestel noordoos van Hondeklipbaai en wes van Kamieskroon in Namakwaland. Jannie en Retha de Beer het ook nie, maar ná die dood van hul drie kinders het die Here hulle uit Noordwes daarheen gelei. Dis waar hulle hul sendingwerk moes voortsit en ’n verskil maak.

Progast

INSPIREER

Vrede van Bo op ’n sinkende skip

Op 4 Augustus 1991 het die grootste seereddingspoging in Suid-Afrikaanse geskiedenis aan die Wildekus plaasgevind toe die passasierskip Oceanos sink. Dit was ’n onbetwiste wonderwerk; meer as 500 mense was aan boord en almal het oorleef. Martin Cloete onthou dit asof dit gister gebeur het.

DEUR UNA NIEUWOUDT

Toe sy beste vriend se suster, wat ’n reisagentskap in Oos-Londen gehad het, hom van die fantastiese aanbod vertel, het Martin Cloete nie twee keer gedink nie. Hy was ’n jong, suksesvolle bourekenaar en geld was nie ’n kwessie nie. Min het hy geweet dié kort avontuur sou in ’n nagmerrie ontaard – sy tweede op stormagtige waters binne ’n jaar.

LEGENDE

One-Take Bettie huppel deur die lewe

Ná meer as vyf dekades in die vermaaklikheidsbedryf het Bettie Kemp steeds net een probeerslag nodig om ’n opname te doen. Maar sy systap die woorde “ikoon” en “legende”. “Ek’s net ’n gewone mens wat in die openbare oog werk en dit so goed as moontlik probeer doen.”

DEUR KARIN BURGER

Sy is heel ingenome met haar bynaam One-Take Bettie. “Ek doen nie twee takes nie. As die kameraman vra of ek reg is, sê ek altyd: “Ek mors nie tyd nie.” Die dag wanneer ek nie meer ’n one take doen nie, sal ek weet dis tyd vir iets anders …”

HUMOR

‘Hy het nou behoorlik kompos aangejaag!’

Pleks van fladderende herfsblare wat na benede val terwyl Nico Carstens “Autumn Leaves” op sy trekklavier speel, word hy toe met blertse kompos uit die ateljeedak bestook …

DEUR JOHAN STEMMET

Van alles wat in ’n televisieateljee kan skeefloop, is daar een voorval wat my altyd sal bybly.

In die beginjare van televisie in Suid Afrika moes ons as jong regisseurs by die Afrikaanse Ligtemusiekafdeling van die destydse SAUK TV1 elk ’n program met die een of ander plaaslike kunstenaar vervaardig.

Ina-Paarman

VERHOUDINGS

‘My kinders het my weggegooi’

Wanneer ouers hul pasgebore baba die eerste keer vashou, is die laaste gedagte wat by hulle opkom waarskynlik dat dié kind hulle jare later sal verwerp. Tog gebeur dit dikwels. ’n Kenner werp lig op die situasie.

DEUR UNA NIEUWOUDT

Die meeste ouers koester drome van geluk, gesondheid en voorspoed vir hul kinders. Hulle glo hul verhouding met hul kinders sal altyd rotsvas staan en dalk selfs verinnig wanneer die kinders volwassenheid bereik. Die gedagte dat hul eie vlees en bloed hulle eendag summier sal verwerp, is so vergesog dat dit dalk nooit eens by hulle opkom nie.

LEEFSTYL

’n Spaanse staptog wat vrede bring

Om die Camino de Santiago te stap was ’n avontuur van eenvoud, stilte en die mooiste natuurskoon … lafenis vir die siel.

DEUR MARINDA ERLANK

Vroegoggend val daar ’n paar druppels en die lug is grys. Maar niks kan die opgewondenheid in my blus nie, ons rugsakke staan reg en my voete jeuk om te begin stap. Voor ons lê sowat 150 km onbekende pad in ’n onbekende land. Ons stap die Camino de Santiago in Spanje, van Tui tot in Santiago – ’n ruspouse in ’n besige lewe. ’n Nuwe avontuur, maar een van eenvoud, stilte en die mooiste natuurskoon.

GESOND

Hou, bene, hou

Osteoporose tref veral vroue ouer as 50 jaar. Dis aanvanklik ’n stil siekte sonder simptome, maar tot een derde van mense sterf binne ’n jaar ná ’n heupbreuk. Die opsporing, leefstylaanpassings en behandeling is juis daarop gemik om beenbreuke te voorkom, mits die behandeling goed beplan word.

DEUR MARÍ HUDSON

Ons ken almal die prentjie: Die ouer vrou in haar sewentigs of tagtigs wat nie meer fier en regop loop nie. Sy lyk ál krommer en krimp ál korter. Dis die tipiese prentjie van iemand met gevorderde osteoporose.

Hugo Apothecary

LESERERVARING

Mooi loop, ou mamma

Soms stuur die Here mense oor jou pad wat ’n groot invloed op jou lewe het, al is die ontmoeting vlugtig en besef jy die impak daarvan eers jare later, skryf Frede Swarts.

Soos die jare aanstap, onthou ek gebeurtenisse en mense wat ek al amper vergeet het. Sommige herinneringe sou ’n mens liefs wou vergeet, vir altyd. En ander wil jy weer met verwondering aan dink. Die herhaalde meeleef van herinneringe bring tog nuwe wysheid en ’n sagter onthou.

ANTOINETTE SÊ

Soete samesyn

Haar suster was nog nie eens by die lughawe op pad terug na Kanada nie, toe begin die verlange al knaag, skryf Antoinette Pienaar.

Baie van ons het geliefdes wat oorsee bly en weet die verlange het nooit genoeg voete om by jou geliefde uit te kom nie. Jy ervaar heeltyd ’n knaende gemis, al kan ’n mens deesdae mekaar se gesigte op fone en computers sien.

LAASTE WOORD

Op soek na hoop?

Nadat sy wyd en syd deur ons mooi land gereis het, het sy met sakke vol hoop tuisgekom, skryf Amore Bekker.

Moeder Teresa het gesê daar’s ’n groter behoefte in die wêreld aan hoop as aan brood. Ek het die laaste paar maande wyd en syd in ons groot, opwindende land gereis en met sakke vol hoop teruggekom.

ActiveCare

Teken in op gedrukte tydskrif

Teken in op digitale tydskrif

Trudie Myburgh Media

TM Media Logo
  • Egretstraat 2
  • Flamingo Vlei
  • Table View
  • Kaapstad 7441

082 603 8134

Webblad ontwikkel, onderhou en gehuisves deur Webcore Online Solutions © 2025, alle regte voorbehou.