Mei / Junie
2026

Bruis Tydskrif 

Bruis is ’n lekkerlees-tydskrif vir mense bo 45. Dit bied inspirasie, raad en inligting aan mans én vroue in topgehalte-artikels oor bekendes en minder bekendes, aktuele sake, gesondheid, aftrede, geld, leefstyl, resepte en verhoudings … plus ’n tikkie humor en blokraaie. Bruis is beskikbaar in gedrukte sowel as digitale formaat. Lekker lees!

Beskikbaar op

8 Januarie!

Antoinette gesels

Antoinette Pienaar stel haar lewe op Theefontein in die Karoo aan ons bekend. Sy gesels elke week in haar Klein Wit Huisie oor dinge wat haar na aan die hart lê en deel sielsverrykende pitkos soos net Antoinette kan.

Kom kuier saam by

Eensgezind

Ons gaan weer in die lente saamkuier – maak seker jy’s daar!

EENSGEZIND-VENUE

KLIPHEUWELPAD
DURBANVILLE
KAAPSTAD

Datum: Saterdag 5 September 2026
Tyd: 09:00 tot 13:00
Koste: R620 per persoon
Die kaartjies sluit ’n laatontbyt met
’n heerlike spyskaart in.

Topsprekers en -vermaak

Annette Engelbrecht, Susan Coetzer, Germandt Geldenhuys en Ewan Strydom

Laatontbyt, pryse, stalletjies

’n Keurige laatontbyt sal voorgesit word. Soos gewoonlik, gaan wonderlike pryse in gelukstrekkings weggegee word en elke gas sal met ’n geskenksakkie vol lekker verrassings huis toe gaan.

NUUT

Jy kan nou na stories in Bruis luister!

‘n Nuwe manier om Bruis te beleef – eksklusief vir digitale intekenaars.

Sappo

In hierdie uitgawe

KOLLIG

Ouboet en sy Poeksie kuier weer saam

Wie kan dan nou die Van Tonders van Orkney vergeet? Hendrik en Maggie, Ouboet en Yollie … en natuurlik ook Wimpie, Hess en Neelsie! Frank Opperman en Sally Campher (Ouboet en sy Yollie) deel hul herinneringe van Orkney snork nie! en vertel ook wat hulle deesdae doen.

DEUR KARIN BURGER

“Sê dit! Sê dit! Ag tóéééé?” Sally Campher klim gemaklik in haar Yolanda van Tonder-karakter van byna 40 jaar gelede toe Orkney snork nie! die eerste keer op televisie uitgesaai is. En Ouboet (Frank Opperman) laat nie op hom wag nie en laat hoor: “Poeksie Woeksie se Worsie Wapsie is nog baie lief vir hom!” Dan gee Yollie haar kenmerkende lekkerkry-gil dat die dak lig …

KOLLIG

‘My siel moet sing’

Op skool het Jill Levenberg al besef toneelspel laat haar siel sprankel. Ná 10 jaar is dit steeds vir haar lekker om soggens in Mymoena van Suidooster se skoene te klim. En sy leer nog elke dag.

DEUR SUZETTE TRUTER

As die aktrise Jill Levenberg stories kan vertel, is haar siel gelukkig. Selfs wanneer twee karakters gelyktydig om haar aandag meeding.

“Nêrens anders kry ek daardie gevoel as wanneer ek op die verhoog of voor die kamera is nie,” gesels Jill oor Zoom vanuit haar kleedkamer by Atlantic Studios in Kaapstad waar die kykNET-sepie Suidooster verfilm word.

KOLLIG

Versamelaar van oomblikke

Met sy ballades en meesleurende stem betower Danie Niehaus steeds sy gehore landwyd. Hy wil aanhou skryf en sing, sê hy. Ook steeds oseane en riviere verken en koesterklippe saambring huis toe.

DEUR JEANNE HENNING ELS

Hier buite Robertson in die Wes-Kaap wil hy vir die res van sy lewe woon. Net hier, op die oewer. Hy ken die héle Breederivier. Die geroep van die voëls, die vloei van die strome, al die vasmeerplekke. Sonbruin en in sy nommerpas-jeans staan Danie Niehaus by die oop stoepdeur en tuur oor die riete. “Om in ’n bootjie te roei wanneer die water kalm is, maak my gelukkig.”

ActiveCare

AKTUEEL

Blom waar jy geplant is

As jy ’n seisoen van droogte beleef, onvervuld voel en daarna hunker om dieper spore te trap, is jy ryp vir groei. Alles wat jy nodig het om te blom lê binne jou opgesluit; jy moet dit net ontgin. ’n Bekroonde lewensafrigter verduidelik hoe.

DEUR UNA NIEUWOUDT

Voel jy soms asof jy op die plek swem? Jou bene skop met mening en jou arms roei verbete, maar wanneer jy opkyk, besef jy jy’t beswaarlik gevorder. Om die een of ander tyd op jou lewensreis vas te haak beteken nie jy’s ’n mislukking nie, maar wél dat dit tyd is om jou tegniek aan te pas en dalk selfs van rigting te verander.

INSPIREER

‘Gryp die dag aan …’

Annemarie le Roux leef al dekades met depressie saam. Toe kom demensie by. Haar dans met die twee d’s raak al hoe moeiliker, maar met die bystand van haar man volhard sy én het sy op 80 ’n boek daaroor geskryf.

DEUR KARIN DE BEER

“Iemand het gesê ouderdom is ’n terminale siekte; ek sê die lewe is een. In N.P. van Wyk Louw se woorde: Mooi is die lewe en die dood is mooi. Jy kan nie daarby verbykom nie, maar dis moeilik om in die skaduwee van twee gevreesde siektes ouer te word …”

INSPIREER

‘Gestrem, maar ons bly hoop’

Lewenslustig, dol op die buitelewe en kook, die beste ouboet en seun … maar op net 22 het alles vir Stefan Badenhorst verander. Tuberkulose-meningitis het hom by die dood laat omdraai en gestrem gelaat. Sy ouers versorg hom tuis en bly hoop op ’n wonderwerk.

DEUR KARIN DE BEER

Griep. Bosluiskoors. Covid. Dokters kon nie kleinkry wat ’n blakend gesonde jong man sieker en sieker laat word nie. Drie weke het verloop van Stefan Badenhorst se eerste doktersbesoek totdat hy ná 27 beroertes gestrem in ’n hospitaalbed gelaat is.

Ina-Paarman

INSPIREER

Christelle se herstel ’n wonderwerk

Ná ’n breinaneurisme en maande in die hospitaal het medici moed opgegee dat Christelle van Eeden ooit weer normaal en op haar eie sou kon funksioneer. Vandag glo sy haar merkwaardige herstel is deel van die Here se plan met haar.

DEUR KARIN BURGER

Christelle van Eeden (62) gesels geesdriftig oor haar man van die afgelope 35 jaar, Barnard, hul twee seuns, Kobus en Fourie, en hul enigste kleindogter, Stella-Marè (agt maande). Hul reuse-Rottweiler, Angus, lê langs haar voete en slaap op die Van Eedens se plaas, Artois, buite Tulbagh in die Wes-Kaap.

HUMOR

Trap water as die pas te vinnig raak

In die gim gaan dit nie net oor sterk en soepel spiere of om punte vir gratis cappuccino’s bymekaar te maak nie, maar ook oor die sagtheid van die water wat na mense oorspoel.

DEUR KARIN BURGER

Ek het nog altyd gesond probeer leef – eet sover moontlik die regte kosse, hoewel ek meestal struikel as iemand ’n Lindt-balletjie of vet skaaptjop voor my neersit, slaap genoeg – my ooglede klap klokslag om 21:30 toe – en geniet my oefening. Ek het so ’n jaar of vyf gelede ’n marathon gehardloop, maar bergfietsry bly my groot liefde; ek durf juis later vanjaar my vyfde Trans Baviaans-uithourit oor 240 km aan.

LEGENDE

Koos wil vir Faan terugbring

Noem enige van die bekendste of mees bekroonde Suid-Afrikaanse flieks en die kanse is goed dat Koos Roets daarby betrokke was … hetsy as regisseur, kameraman of albei. Op 83 is hy nog lank nie klaar met die bedryf nie en maak hy nou planne om die gewilde Faan se Trein deur Faan se Stasie op te volg.

DEUR KARIN BURGER

Toe Koos Roets en Katinka Heyns in 1971 op die vervaardiger Jans Rautenbach se Karooplaas naby Klaarstroom trou, het die skrywer Pieter Fourie vir Koos ’n besonderse trougeskenk gegee: die handgeskrewe draaiboek van Faan se Trein.

VERHOUDINGS

Leer om nee te sê

Om nee te sê is nie maklik nie; trouens, vir sommige mense is dit onmoontlik. Maar as jy jou eie belange wil beskerm, moet jy selfgeldend wees en soms teen ander se wense handel, anders kan dit jou duur te staan kom.

DEUR UNA NIEUWOUDT

Nee. Kort, kragtig en op die man af. Tog sukkel ons dikwels om dié woord te uiter omdat ons bang is om gevoelens seer te maak, ego’s te knou of verhoudings te vertroebel. Maar om ja te sê wanneer alles in jou daarteen skop, kan jou op vele maniere benadeel.

LEEFSTYL

Superlekker koejawels

Koejawels is ’n supervrug, so gesond en laag in kilojoules dat jy met elke verbystap enetjie kan eet met skil, pitte en al!

DEUR MARINDA ERLANK

’n Bakkie vars koejawels laat ’n hele huis lekker ruik – hoe ryper die vruggie, hoe lekkerder ruik dit. Dié sappige, ronde of ovaalvormige wintervrug het die perfekte smaakkombinasie van soet, ’n titseltjie suur en effens vrankerig.

GESOND

Snork is glad nie onskuldig nie

Snork is ’n waarskuwing van slaapapnee, wat dodelik kan wees omdat dit gevaarlike prosesse in die liggaam aanskakel. Die diagnose en behandeling van slaapapnee is uiters belangrik, besef spesialiste nou. Dis gevaarliker vir die hart as sigarette.

DEUR MARÍ HUDSON

Ken jy dit? Die stampie in die sy sodat jy jou lê moet verander om hopelik op te hou snork … Ja, byna die helfte van mense snork, en nie net ouer, vet en onfikses nie.

LESERERVARING

’n Lewe van lig

Sy’t nooit kon dink dat een klein gebaar van hulp aan ’n medemens tot soveel liefde en seën sou lei nie, skryf Frede Swarts.

So kort voor Kersfees lees ek ’n gebed raak wat eindig met dié woorde: “Maak my lewe ’n lig in hierdie feestyd.” Daar is niks merkwaardigs aan die woorde nie, behalwe wanneer jy dit werklik wil uitleef. Dan verblind hulle jou momenteel en bêre jy hulle in jou hart vir daardie oomblikke wanneer die Here jou woordeloos saggies daaraan gaan herinner.

ANTOINETTE SÊ

So waar as padda manel dra …

Sy’t al haar klein wit huisie met talle vreemde “gaste” gedeel, maar die nuutste twee het sommer diep in haar hart gekruip, vertel Antoinette Pienaar.

Ek het al deur die jare vele gaste hier in my klein wit huisie op Theefontein gehad. Daar was al muise, krieke (veral krieke) en geitjies teen mure en agter skilderye. Selfs ’n reënspinnekop het al in ’n hoek van my slaapkamer kleintjies uitgebroei. My nuutste huisgaste slaan egter my asem weg en maak my opgewonde van nuuskierigheid.

LAASTE WOORD

Eina!

Op skool het ’n pak slae nie haar gedrag verander nie … woorde sou haar dalk twee keer laat dink het, skryf Amore Bekker.

In die 1970’s wou ek en my suster grootmense wees, want daardie jare was nie noodwendig maklik vir ’n kind nie – daar was reëls en regulasies by die huis, skool en kerk. En alles was sonde.

Teken in op gedrukte tydskrif

Teken in op digitale tydskrif

Trudie Myburgh Media

TM Media Logo
  • Egretstraat 2
  • Flamingo Vlei
  • Table View
  • Kaapstad 7441

082 603 8134

Webblad ontwikkel, onderhou en gehuisves deur Webcore Online Solutions © 2026, alle regte voorbehou.