Kom kuier saam by Eensgezind

Ons gaan weer in die lente saamkuier – bespreek jou plek nóú!

Annette Engelbrecht

Susan Coetzer

Germandt Geldenhuys

Ewan Strydom

EENSGEZIND-VENUE
KLIPHEUWELPAD
DURBANVILLE
KAAPSTAD

Datum: Saterdag 5 September 2026

Tyd: 09:00 tot 13:00

Koste: R620 per persoon

Die kaartjies sluit ’n laatontbyt met ’n heerlike spyskaart in.

Bruis hou in September vanjaar ’n besonderse kuieroggend by die pragtige Eensgezind-venue naby Durbanville in die Kaapse Skiereiland. Jy mag dit nie misloop nie!

Ons kuieroggende het ’n gewilde hoogtepunt op die sosiale kalender geword. Maak seker jy bespreek jou plek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.

Vanjaar se kuier gaan oudergewoonte ’n spoggeleentheid wees met ’n uitsonderlike program, verruklike eetgoed, wonderlike pryse en geskenke, en boonop bekende legendes wat kom saamkuier.

Topsprekers en -vermaak

Annette Engelbrecht, geliefde veteraanakteur wat onder meer die rol van Maggie in die gewilde televisieprogram Orkney snork nie! vertolk het, is een van twee topgehalte-sprekers. Sy gaan ons inspireer met haar motto vir die laaste fase van haar lewe: “Dansend na die lig”.

Susan Coetzer, bekroonde akteur en skrywer van die een topverkoperboek ná die ander, gaan praat oor hoe sy dit reggekry het om ná terugslae in haar lewe ’n ommekeer van 180 grade te maak, van negatief tot positief.

Die gewilde Binnelanders-akteur met die goue stem, Germandt Geldenhuys, gaan weer vir vermaak sorg. Gaste kon verlede jaar nie uitgepraat raak oor sy pragtige sang nie.

Ewan Strydom, aanbieder van die televisieprogram Bravo, is weer ons seremoniemeester.

Laatontbyt, pryse, stalletjies

’n Keurige laatontbyt met wyn en sap sal voorgesit word. Soos gewoonlik, gaan wonderlike pryse in gelukstrekkings weggegee word en sal elke gas met ’n geskenksak propvol lekker verrassings huis toe gaan.

Daar gaan ook stalletjies wees waar jy ’n verskeidenheid van interessante produkte en artikels sal kan koop – die ideale kans om verjaardag- of Kersgeskenke aan te skaf. Kom vroeg, want die stalletjies sal oopmaak ’n uur voordat die kuieroggend begin en ook na afloop van die verrigtinge oop wees.

Om die kroon te span op al dié heerlikhede gaan verskeie geliefde legendes kom saamkuier. Hou Bruis se Facebook-blad dop vir aankondigings oor wie almal daar gaan wees …

Ons kuieroggend gaan ’n gesellige, bruisende geleentheid wees – maak seker jy’s daar!

Op die spyskaart is:

  • Parfait met tropiese vrugte, jogurt, granola en heuning
  • Mediterreense tertjie met parmesaankors, botterskorsie, tamatie, spinasie, soetrissie en feta
  • Geurige fillo-maalvleispastei met vars kruie
  • Hoender-chipolata en vark-chipolata met kaas
  • Geroosterde aartappel, tamatie en gerookte bone
  • Krakerige slaai met kool, komkommer, babaspinasie, vars kruie, ui, croutons en parmesaan
  • Gebakte suurlemoenkaaskoek met grenadellasous en meringue
  • Wyn
  • Sap
  • Koffie en tee

BESPREEK JOU KAARTJIE SÓ:

Jy kan op een van drie maniere plek bespreek:

Bespreek jou plek nóú … ons sien uit om jou daar te hê!

WIL JY ’N STALLETJIE BESPREEK?

Om ’n stalletjie te bespreek: